BASJAN

 

(Namakwaland)

Basjan is gebore en het grootgeword in Namakwaland in onder andere Garies en Port Nolloth. Hy het na skool gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die graad B.A.Teologie verwerf het. Hier was hy deel van die Gospel groep Kerugma en het Baskitaar gespeel. Daarna het hy vir ‘n jaar as toergids gewerk (en toeriste vermaak met sy Weskusmusiek) en veral toere na die Weskus en Namakwaland gelei.

(Fakulteit Teologie - Universiteit van Stellenbosch)
In 1992 het hy oorsee gaan toer en werk op plase in Israel, Griekeland, Switserland en Wallis en oral het die musiek saamgegaan. In 1993 keer hy terug na Suid-Afrika en word aangestel as bestuurder in die Paarl op ‘n wingerd en vrugte plaas. Nadat hy hom meer toegelę het op wingerdbou raak hy betrokke by Distell as bestuurder van Loch Lynne Landgoed in die Durbanville omgewing. In 2004 begin hy sy eie boerdery bestuurs besigheid wat landboudienste en advies lewer.

(Basjan op die plaas)
Intussen begin hy hom toelę op Boeremusiek en sy eerste album verskyn in 2001 met die titel ‘Hiert jou lekker ding’. In dieselfde jaar wen hy die Geraas Musiektoekenning (GMT) vir die beste Boeremusiekalbum. In 2002 verskyn sy tweede album getiteld ‘Basjan se Boerejol’ en in 2003 wen hy weer die GMT vir die beste Boeremusiekalbum. Hy maak onder andere verskynings op Agri-TV en Geraas gedurende hierdie tyd.

(Basjan op die Verhoog)
Afrikaans en sy węreld – die Weskus en Namakwaland – lę hom baie na aan die hart en motiveer hom om in 2005 ‘n Dvd en cd getiteld ‘Basjan se Weskus-Party’ uit te gee. Kyknet verkry die regte om die Dvd te vertoon en saai dit uit op die 1,2,3,4 Januarie 2005. Die reaksie is oorweldigend en ten spyte van verspreidingsprobleme verkoop ongeveer 10 000 eenhede van die Dvd en cd in ’n relatief kort tydperk.
(Die Dvd bevat musiek, sketse en humor uit die Weskus en Namakwaland. Arno van Zyl tree op as gaskunstenaar.
Die cd bevat musiek uit die Weskus en Namakwaland. Nommers soos ‘Torralied’, ‘Ysterwielkruiwa’, ‘Weeskind’ en ander verleen ‘n regte Weskus geur aan die album, terwyl daar ook hulde gebring word aan Worsie Visser met ‘Baie, baie dankie’.)

(Basjan se Weskus-Party)
Basjan skryf ook self Afrikaanse musiek en in 2005 besluit hy om ‘n paar nommers aan die publiek bekend te stel. Die reaksie is besonder goed en hy en die ‘Weskus-Bând’ neem hulle eerste moderne Afrikaanse cd getiteld ‘Vanaand’ op in dieselfde jaar met meestal nommers uit Basjan se pen.
Die cd bevat hoofsaaklik nommers deur Basjan self gekomponeer. Let veral op na ‘Meisiekind van my’, ‘Vanaand’ en ‘Hondeklipbaai’.

(Vanaand - Basjan en die ‘Weskus-Bând)
Basjan se Weskus-party vol.1 was so gewild, dat Basjan se Weskus-party vol.2 ook moes volg. Dit word ook uitgegee in CD en DVD formaat. Binne 6 maande het die DVD reeds goue status verwerf en in 2007 word die CD genomineer vir die Vonk Musiek Toekennings.

(Basjan se Weskus-party Vol.2)
Intussen neem Basjan ook ’n CD genaamd Boermusiek Groot 5 – Banjo vol. 1 op. Hier speel hy gewilde banjonommers saam met van die land se beste banjospelers nl. Stompie Heyns, Fred Rheeder, oorlede Hugo Rother en Johan Visser. Hierdie CD word in 2007 benoem vir die SAMA-Toekennings en behaal die
top 3.

(Boermusiek Groot 5 – Banjo vol. 1)
Met baie gewilde produkte agter die rug, is Basjan se musiekloopbaan en –drome beslis nog nie op ’n einde nie. Hou hom gerus dop vir nog verrassings aan die einde van 2007!